Tuesday, January 23, 2007

Oranje, blanje, Black

My vorige artikel was skaars op die lug toe ontvang ek hierdie brokkie inligting van my man af. Almal het seker al te doen gekry met die storie maar hier is 'n verfrisserkie van hoe bly ek is nie alle swart mense dink ons klomp whities is dose, wat in groepies bymekaar kom onder Eugene Terblanche fotos en 'Uit die blou van onse hemel' sing nie.

Inligting met die komplimente van Beeld - nie ABSA nie.

"Hy het dit vir eenheid gedoen, sê mnr. Tshepo Legodi, wat die wenkbroue laat lig het toe hy die Springbokke verlede November op Twickenham in die tweede rugbytoets teen Engeland met ’n ou landsvlag oor sy skouers ondersteun het.
Volgens Legodi, wat die afgelope sewe jaar in Londen werk, het hy besluit om die ou vlag by die toets te swaai om te wys dat hy dít wat in die verlede gebeur het, aanvaar het.
“Ek dink as mense werklik vrede gemaak het met die verlede, behoort dit nie meer ’n teer punt te wees nie. Die apartheidsjare was sleg, maar ek gaan nie voorgee dit het nooit gebeur nie.
“Die ou vlag is ook deel van mý geskiedenis. Wat gaan ons eendag vir ons kleinkinders vertel? Ek sal graag vir hulle wil wys dat ek aanbeweeg het.”
Die groot aantal ou Suid-Afrikaanse landsvlae wat gedurende die Bokke se twee toetse in Londen teen Engeland op 18 en 25 November rondgeswaai is, het plaaslik ’n groot herrie veroorsaak.
’n Leser se foto van ’n onbekende swart man met ’n ou vlag oor sy skouers wat die Bokke in die tweede toets ondersteun, het tot heelwat bespiegeling gelei.
Dit het nou aan die lig gekom dat Legodi dié man is. Legodi, ’n 26-jarige oud-Pretorianer en sakekonsultant, sê hy kuier elke jaar by sy ouers in Polokwane (Pietersburg) en sal altyd ’n “trotse Suid-Afrikaner” bly.
Volgens hom was die meeste Bok-ondersteuners verras om hom met die ou vlag te sien.
“Ek dink die meeste mense het die humor daarin gesien. Ek dink ons moet daarteen waak om nie oorsensitief te wees nie.
“Die ou vlag het destyds die hele Suid-Afrika verteenwoordig en almal was beslis nie rassiste nie. Hulle was trotse Suid-Afrikaners wat nou net so trots is op hul nuwe vlag.”
Sal hy weer sy ou vlag saamvat Twickenham toe?
“Ja, ek het eintlik albei landsvlae by die toets gehad. ’n Swart man met die ou én nuwe vlag is die beste voorbeeld van eenheid wat jy kán kry.”

No comments: