Tuesday, July 24, 2007

Tshabalala wie?

Ag dit sal great wees...imagine 'n Suid Afrika waar rooiwyn maak deel van die skool cirriculum is...

Koos Kombuis: As ek eendag president is

Ja, oukei, oukei. As julle so aanhou, is ek bereid om my beskikbaar te stel vir die pos.
Watter pos? O, die pos van president, natuurlik.

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek het die regte credentials. Onlangs het ek 'n boek gelees oor die geskiedenis van Afrika, en ek weet nou presies wat die kwalifikasies vir 'n goeie Afrika-leier is.

Al die groot Afrika-leiers sedert die begin van onafhanklikwording in die 1950's het jare lank in Engeland gewoon, waar hulle leer tee drink het. Daarna was hulle gewoonlik 'n rukkie in die tronk.

Nou, oukei. Ek was ook in Engeland, al was dit nie om 'n graad by 'n Britse universiteit te kry nie. En ek was in die tronk - minstens twee keer - weliswaar nie oor politiek nie, maar ek was in die tronk. Maar ek was ook in die struggle.

En vandag is ek oorgewig, en bles, en gemaksugtig. Ek sal 'n fantastiese fat cat kan wees. Ek lyk goed in los Afrika-hemde!
Dit sal die ANC se beeld goed doen om 'n slag iemand van buite af te kry om die volk te lei. Iemand soos Tokyo Sexwale. Of natuurlik iemand soos ekke!

As ek president word, sal ek my nie besig hou met beuselagtighede of kosmetiese hervormings soos naamsveranderinge nie. Wat ons land nodig het, is revolusie, ware revolusie, om die mag terug te gee in die hande van die werkers.

Hier is my daadwerklike reaksionêre radikale plan van aksie:
Eerstens sal ek vir my 'n troetelnaampie kry. En 'n dubbeldoor-van, soos Manto. Aangesien swart mense my lankal "Kola" noem, sal dit voortaan my naam wees. Voortaan sal ek dus nie meer bekend staan as "Koos Kombuis" nie, maar as "Kola Tshabalala-Kombuis".
Dit sal joernaliste so lank neem om my naam te leer skryf dat hulle nie nog energie sal oorhê om my sleg te sê in hulle eensydige, imperialistiese berigte nie.

Tweedens sal ek my beywer vir 'n eenpartystaat, soos in die res van Afrika. Aangesien hier nog ongelukkig groot weerstand teen die idee is, sal ek dit geleidelik en onopsigtelik doen.
Ek sal 'n groot bohaai opskop elke keer as die DA 'n setel wen. Ek sal die grense van die kiesafdelings verskuif, al moet ek Zimbabwe annekseer en insluit by die Wes-Kaap.
So sal ek eenheid in ons land se chaotiese politiek bewerkstellig.

Derdens sal ek 'n rasseklassifikasiestelsel instel waarvolgens ek, net ek, mag besluit wie "Afrikane" is en wie "setlaars" is. As ek besluit Luke Watson is 'n Afrikaan, is hy een. As Jacob Zuma my pla, verander ek hom in 'n wit man. Hy woon anyway braaivleis-aande in Houghton by, so hy sal dit waarskynlik geniet om wit te wees!

Sodra ek hierdie belangrike beleidsrigtings uitgestippel en toegepas het, sal ek die hele kabinet skommel sodat die poste gevul is met mense wat ek ken en vertrou. G'n president kan behoorlik regeer as hy heeltyd omring is deur 'n klomp nee-broers nie!
Ek sal al my vriende in die musiekbedryf goeie jobs en groot huise gee. Maak julle maar gereed vir minister Bok van Blerk, minister Abel Kraamsaal, minister Casper de Vries, minister Patricia Lewis en minister Jurie Els!

Met behulp van hierdie nuwe kabinet kan ons dan begin om Suid-Afrika om te skep in 'n ware Afrika-staat. Met Kubaanse dokters, Haïtiese diktators, Russiese raadgewers en Chinese tegnici.
Ek sal damme bou waar geen damme nodig is nie, treinspore beplan onderdeur die Karoo en die landskap versier met talle peperduur monumente en standbeelde van myself. Te pragtig! My gesig sal ook pryk op geldnote en advertensieborde orals oor die land.

En o ja, ek sal alle Westerse hospitale en farmaseutiese maatskappye verbied. Van nou af moet tradisionele helers en toordokters siek mense behandel. As ek ooit self ernstig siek word, of 'n leweroorplanting nodig het, kan ek oorsee vlieg daarvoor!

Ek sal in elk geval die meeste van die tyd oorsee wees. En wie wil nou anyway in hierdie gat van 'n plek sit waar mens enige tyd in die rug geskiet kan word in 'n staatsgreep deur iemand soos comrade-minister Steve Mangosuthu-Hofmeyr?

No comments: