Friday, February 02, 2007

VIVA IFP!

Beeld; Vrydag 2 Februarie 2007

Regstellende aksie jaag wittes uit - Buthelezi

Regstellende aksie is die hoofrede waarom so baie wittes die land verlaat wat op sy beurt 'n groot vaardigheidstekort veroorsaak, het mnr. Mangosuthu Buthelezi van die Inkatha-Vryheidsparty gesê.

Buthelezi het in sy weeklikse nuusbrief geskryf dat witmense aansporings moet kry wat dit vir hulle die moeite werd maak om in die land te bly.

Die rede waarom die meeste wittes die destydse Nasionale Party se referendum gesteun het om 'n einde aan apartheid te maak, was omdat hulle geglo het dat daar vir hulle plek in die nuwe Suid-Afrika sal wees, het Buthelezi gesê.

"Dis nodig dat ons wit Suid-Afrikaners 'n beduidende aandeel in die huidige bestel bied ... dit het nie net ekonomiese sin nie, dit is ook in pas met ons visie vir 'n nie-rassige Suid-Afrika.

"As die meerderheid witmense in die jare 90 sou voorsien het hoe 'n groot rol regstellende aksie en rasseklassifikasie in die arbeidsmark sou speel, sou enkeles 'ja' gestem het in mnr. F.W. de Klerk se waterskeidingsreferendum oor konstitusionele hervorming."

Buthelezi het gesê die IVP gaan 'n forum voorstel wat hom ten doel sal stel om na maniere te kyk waarop wittes in Suid-Afrika gehou kan word. - Sapa

No comments: